|
Wat die woord Bybel beteken?
Die afrikaanse woord “Bybel” is afgelei van die Grieks biblia, wat “boeke” beteken. Die vroeë Christene het die versameling boekrolle waaruit hulle geskrifte bestaan het, “bibilia” genoem. Die Bybel word as een boek gebind en gebruik, maar eintlik is dit ‘n versameling van 66 boeke in een volume. DIe Bybel bestaan uit twee gedeeltes, wat die Ou Testament en die Nuwe Testament genoem word. Die Ou Testament bestaan uit 39 boeke en die Nuwe Testament uit 27 boeke.
Hoofstuk en versnommers
Die Bybel is nie oorspronklik met hoofstuk en versnommers geskryf nie; dit is heelwat later bygevoeg om die leser te help om enige Bybelgedeelte makliker te vind.
Wanneer en deur wie is die Bybel geskryf?
Die Bybel is ‘n uitsonderlike Boek. ‘n Groot verskeidenheid skrywers - van skaapwagters tot konings - het vir ten minste 1 200 jaar lank daaraan geskryf, en tog bevat die verskillende boeke een en dieselfde boodskap en begrip van wie God is! Hierdie verskeidenheid skrywers sluit in profete soos Moses, Daniël en Jesaja, geleerde mense soos Ersa, konings soos Dawid en Salamo, en apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus.
Waarom kan ons die Bybel vertrou?
Daar is mense wat twyfel aan die suiwerheid en die egtheid van die Bybel wat ons vandag besit. Christene glo dat die Bybel die woord van God is en dat God self menslike skrywers geïnspireer het om die boeke van die Bybel te skryf.
Die geleerdes - Jode sowel as Christene - wat die Skrif deur die eeue heen oorgeskryf het, het baie noukeurig te werk gegaan. Uit die groot aantal Bybelse manuskripte wat ontdek is, is dit duidelik dat hierdie mense akkurate werk gedoen het. Daar bestaan tienduisende Ou-Testamentiese manuskripte en fragmente van manuskripte wat van regoor die antieke wêreld kom. ‘n Goeie voorbeeld van die antieke manuskripte wat die wat die betroubaarheid van die teks van die Ou Testament bevestig, is die Dooie See-rolle wat van die 3de eeu vC tot die 1ste eeu nC dateer. Tot op hede is daar 5 000 manuskripte en fragmente van manuskripte van die Nuwe Testament ontdek. As ‘n mens hierdie oorweldigende getuienis ten opsigte van die suiwerheid en die egtheid van die Bybelteks in ag neem, kan ‘n mens heelhartig met die volgende saamstem:
“Die Christen kan die hele Bybel in sy hand neem en sonder vrees of huiwering sê dat hy die ware Woord van God vashou, die Woord van God wat sonder wenslike verlies deur die eeue heen van geslag tot geslag oorgelewer is.”
|